Saturday, October 24, 2009

Nostalgie slaan trom: hard en luid

2009-10-14
Paul Boekkooi

The Blues Brothers
Theatre on the Square, Sandton

Sou dit kon gebeur dat nostalgie ooit uitsterf, sal dit nietemin in die teater bly voortleef. Dít, vanselfsprekend, op voorwaarde dat teater sélf oorleef.

Ontleed ’n mens die teater- en veral musiekspelaanbod plaaslik en oorsee, is dit nostalgie wat die trom slaan: hard en luid.

The Blues Brothers is so ’n produksie. Elke mens met té min somers agter die rug sou kon dink John Belushi en Dan Ackroyd is enigiemand wat hulle moontlik nie is of was nie, maar was jy in die 1980’s volwasse en ’n joller, sou hul kultussoekery beslis iewers ’n merkie in jou breinlobbe gemaak het.

Dié word weer op hierdie verhoog wakker geskud deur Johan Baird as Jake en Alwyn Kotze as Elwood Blues.

Kyk, hulle is twee langasems, sing en skoffel dat dit klap, beweeg soos wafferse kontorsioniste op die verhoog en besit by tye soveel binnepret dat hulle dit na buitentoe uitdra. Met ander woorde: hulle is mededeelsaam in alles wat hulle doen.

Soms voel dit asof die verrigtinge net effens té kunsmatig voortgedryf word, maar kort voor lank plaas húlle, die sesstuksorkes en die drie Bluesettes (die agtergrond-sangtrio wat ook ’n paar imposante solobydraes lewer) nuwe woema binne die geheel.

Toe wyle Belushi en Ackroyd (nog met ons) destyds die persona van die Blues Brothers op die NBC-televisienetwerk se Saturday Night Live aangeneem het, was alles nie naastenby so gesofistikeerd as wat dit dikwels deesdae die geval is nie.

Dit is daardie gees van soms onnutsige spontaneïteit wat in dié verhoogproduksie voortleef, maar by tye tog gedeeltes van John Landis se verfilmde weergawe van 1980 laat verongeluk het.

Dit het ’n aweregse uitwerking op die publiek gehad. Waar die kritici die fliek wou begrawe sien, het die persona van Belushi en Ackroyd op só ’n ongewone manier ’n beroep op die breë onderbewussyn van honderdduisende aanhangers gedoen dat dit ’n kultusfliek geword het.

Agttien jaar later se Blues Brothers 2000 vertel die verhaal van die oorgeblewe Elwood (Ackroyd) wat weer sy “bênd” aan die gang wou kry, maar dit was slegs die musiek wat dié mindere poging gedeeltelik gered het.

Daarvan gepraat: Hoewel die plaaslike verhoogproduksie sterk op gehoordeelname steun, soos in Flip, Flop, Fly, is dit uiteindelik die ritme van rock, soul en veral blues wat vir hoendervel sorg.

Wie onthou vir Mustang Sally, Under the Boardwalk, I Feel Good, Hold On, I’m Coming, You Let Me Feel Like a Natural Woman en Jailhouse Rock?

Indien nie, kom by!

Tot 25 Oktober.

No comments:

Post a Comment